Vereistes om as Toegewyde Jagter te kwalifiseer 
Om as Toegewyde Jagter te registreer onder die nuwe vuurwapenwet, moet aan die volgende vier vereistes voldoen word: 
1. Jy moet 'n opbetaalde lid van 'n geakkrediteerde jagtersvereniging wees. 
2. Jy moet aansoek doen op die wetlik voorgeskrewe aansoekvorm en die voorgeskrewe aansoekgelde betaal. (Laai asseblief die vorm in PDF formaat onderaan hierdie bladsy af, druk dit uit en vul dit baie volledig in - slegs as jy bewyse kan lewer dat jy aan voorwaarde 3 hieronder voldoen. Handig dit dan saam met R200 in by jou taksekretaris sodat dit op die volgende takbestuursvergadering deur jou takbestuur goedgekeur kan word) 
3. Jy moet 'n minimum persentasie in die CHASA skriftelike eksamen behaal en 'n praktiese skiettoets slaag. (Skakel die Ondervoorsitter - Opleiding van jou tak vir meer besonderhede) 
4. Jy moet ten minste 3 aktiwiteite van bogenoemde Geakkrediteerde Vereniging (byvoorbeeld BJV of enige CHASA-geaffilieerde vereniging) jaarliks bywoon. Indien jy egter 3 jagte in die jaar gedoen het, sal dit ook tel as aktiwiteite, MITS jy verifieerbare bewyse van hierdie jagte aan jou taksekretaris of sekretaresse voorlê. Let asseblief daarop dat die onus op jou, as Toegewyde Jagter, rus om bewyse van jou aktiwiteite voor te lê en te verifieer. Gewoonlik word elke aktiwiteit by BJV wat jy bywoon, opgedateer volgens die bywoningsregister. Daar is Aktiwiteits-logboeke by jou tak beskikbaar - koop nou vir jou een en dan kan jy elke aktiwiteit en jag daarin aanteken en die verantwoordelike persoon (byvoorbeeld Baanoffisier of Jagplaaseienaar) daarby laat teken en dan is dit maklik om net vroeg in Desember elke jaar 'n afskrif van hierdie logboek aan jou taksekretaris of sekretaresse te oorhandig sodat hy/sy jou rekord kan opdateer op die ledelys en jou Voorsitter kan verifieer dat jy nog steeds 'n aktiewe lid is, soos die wet dit jaarliks vereis. 

Voordele van die Toegewyde Jagter status 
1. Jy behoort (wanneer die huidige herlisensiëringsproses eers voltooi is), jou volgende vuurwapenlisensie aansoeke vinniger en makliker geprossesseer te kry by die SAPD. 
2. Jy is volgens wet geregtig op meer as 4 vuurwapens (anders as die “gewone” mens wat net 4 mag hê) 
3. Jy mag meer as 200 patrone vir elke vuurwapen in jou besit hê 
4. Jou jagwapens se lisensies hoef eers na 10 jaar hernu te word waar persone wat nie hierdie status het nie, se wapenlisensies slegs vir 5 jaar geldig is. (CHASA het beding dat hierdie voordeel ook vir "Geleentheidsjagters" geld) 
5. Jy is geregtig om sekere semi-outomatiese vuurwapens te lisensieer waar ander dit nie mag doen nie. 

Sien ook die skrywe vanaf CHASA ontvang oor vrae wat hulle dikwels oor TJ status ontvang : Dubbelkliek asb op die PDF leêr "Dedicated Hunter : Frequently asked questions" onder aan hierdie bladsy.