Die Bosveld Jagters- en Wildbewaringsvereniging (BJV) is in Augustus 1969 in Pietersburg gestig deur agt jagters wat gevoel het dat daar ‘n besliste behoefte bestaan vir jagters om op ‘n georganiseerde basis bymekaar te kom en sake van gemeenskaplike belang te bespreek.

Van hierdie nederige begin het BJV gegroei sodat daar tans bykans 3000 lede is wat in 7 takke versprei is, naamlik Letaba, Magaliesberg, Potgietersrus, Pietersburg, Waterberg, Soutpansberg en Kremetart.

BJV is geaffilieer by CHASA (die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid Afrika) wat uit 24 jagters- en verwante verenigings landwyd bestaan, en wat dus met reg as die mondstuk van die jagter in Suid Afrika beskou kan word. CHASA se bedrywigheid strek oor ‘n breë front wat onder andere insluit daadwerklike betrokkenheid by Natuurbewaring en insette by die formulering van die nuwe vuurwapenwet, waarin hulle tot ‘n groot mate daarin geslaag het om die jagtersvereniginglid se vuurwapenbesit te beskerm. 

Bosveld Jagters- en Wildbewaringsvereniging het in April 2007 geakkrediteer as Jagtersvereniging (Akkreditasie N0. 1300084) en voortaan sal elkeen wat aansoek doen en kwalifiseer deur BJV self as Toegewyde Jagter akkrediteer word, waar ons voorheen deur Chasa kwalifiseer het.

Wat is Bosveld Jagters- en Wild- bewaringvereniging? (hierna genoem die BJV) Soos die naam aandui het BJV twee hoof funksies. Eerstens, die jagter, met alles wat daarmee gepaard gaan. Dink aan etiese kodes, reëls, wette en ordereëlings ten einde jag as `n gekontroleerde sport te beoefen.

Dit is ook een van BJV se doelstellings om altyd nog meer jaggeleenthede te bekom vir ons lede. Daar bestaan reeds 20 verenigings soortgelyk aan BJV met `n gesamentlike totaal van ±20,000 lede. Die meeste van die verenigings word saamgesnoer onder die oorkoepelende sambreel van CHASA wat dan ook as spreekbuis dien vir die jagter in Suid-Afrika. So is daar insette gelewer op regeringsvlak oor sake rakende die jagter in die algemeen.

Daar kan met reg gesê word dat jagters wat nie lid is van `n jagtersvereniging nie, wel direk baat vind by die werk wat deur verenigings soos BJV deur CHASA gedoen word - sonder CHASA sou die beperkinge wat die vuurwapenwet op die jagter plaas baie meer omvangryk gewees het. Tweedens moet elke jagter omsien na die natuur- en wildlewe om te verseker dat hy sy sport in die toekoms steeds sal kan beoefen. Die onoordeelkundige benutting van ons natuurbronne kan onberekenbare skade aan ons wildlewe berokken. So word daar op voortdurende basis deur CHASA bystand verleen aan instansies wat studies in hierdie verband onderneem.

Daar is al finansiële hulp verleen aan verskeie projekte soos die hervestiging van die Mofhartebees, die Bastergemsbok en Bosbokke in aangeplante bosbougebiede, die studie oor vrektes onder Koedoes, die terugteling van die "uitgestorwe" kwagga en nog vele meer. In kort kom dit daarop neer dat die bewaringfunksie miskien swaarder weeg by die ernstige jagters as die jagaspek omdat laasgenoemde nie kan bestaan sonder die eerste nie.