WETTIGE VUURWAPENEIENAARS NIE TE BLAMEER VIR HOë MISDAADSYFER NIE
Die Bosveld Jagters- en Wildbewaringsvereniging deel glad nie President Zuma se uitlating “this country has too many guns in the hands of citizens” en Minister Mthethwa se “rampant crime was in part to blame on the high number of fire arms among civilians” nie. Hierdie uitlatings is ongegrond en bestaan daar geen feite daarvoor nie. Daar is geen wettige vuurwapeneienaar wat sy vuurwapens aan kriminele verkoop nie. Hierdie uitlating is weer ‘n duidelike bewys dat die regering sy onvermoë om misdaad te beheer wil verskans deur die wetsgehoorsame burger die blaam te laat dra.
Die regering versuim om die werklike probleem areas aan te spreek wat daartoe aanleiding gee dat die misdaadsyfer die hoogte inskiet nl.:
- Korrupte amptenare in diens van die regering en die Suid-Afrikaanse Polisie.
- Nie voldoende strafmaatreëls wat dien as afskrikmiddels nie (terugbring van die doodstraf).
- Hoë werkloosheid syfers in die land. Die regering moedig hierdie syfer aan deur die uitbetaling van kinder toelaes.
- Onbeheerde toegangspunte van die land. Die regering laat toe dat miljoene mense die land binnekom, sonder fondse, werk of heenkome. Dit verhoog die misdaadsyfer geweldig.
Die President en Minister van Polisie moet eerder hulle energie en tyd spandeer op die werklike probleme en die wetsgehoorsame burgers met rus laat en beskerm.