Aan die einde van Oktober elke jaar, is dit tyd om te kom spog met al die groot trofees wat jy deur die jaar ingepalm het. Die Uitvoerende Trofeemetingskompetisie is 'n geleentheid wat reeds sedert die ontstaan van BJV in 1969 elke jaar plaasvind en het reeds 'n tradisie geword wat min trofeejagters misloop. Daar is, benewens die eerste plekke wat vir elke spesie behaal word, ook 'n Grootkampioen en Binnelandse Kampioen wat jaarliks gekies word. Ook 'n Junior Jagter van die Jaar en daar word ook gekyk watter trofee die eerste plek behaal as "Naaste aan die wêreldrekord". Daar word ook jaarliks meegeding om die trofee vir die tak wat die beste in die kompetisie gevaar het. Onthou net dat, indien jy aan hierdie kompetisie wil deelneem, daar 'n stel reëls is wat noukeurig nagekom moet word. So moet jou papierwerk reg wees, dit wil sê permitte, toestemmings ens., en daar is ook 'n vereiste dat jou trofeë skoon en reukvry moet wees en nie gemonteer mag wees nie. Laai gerus die PDF leêr "Trofeemetingsreëls" af wat op hierdie webwerf aangegee word, en sorg dat jy al hierdie reëls bestudeer voordat jy inskryf. Wanneer enige van jou trofeë groter meet as die vereiste minimum vir die SA Rekordboek, kan jy aansoek doen dat jou trofee in die rekordboek opgeneem word - laai die PDF vorm onder aan hierdie bladsy af en druk dit uit sodat jy die vorm kan voltooi en inhandig. Jy kan ook onder Skakels / Links elders op hierdie webwerf op die SA Rekordboek se webbladsy ingaan om die rekordtrofees te besigtig. Enige navrae kan gerig word aan die Hoof Trofeemetingsbeampte, NW Ligthelm 083 233 7505